Sy skryf haar storie vir haar kinders se kinders want om te weet wie jy is, moet jy weet waar jy vandaan kom. En verder: Ons moet van die dooies praat en hul stories vertel, want mens is eers régtig dood as niemand jou meer onthou nie.
Sy is in 1949 in Kroonstad in die ou Oranje-Vrystaat gebore en opgevoed in die partriargale, Christelik-Nasionale tydsgees van die vorige eeu.
Die familiename uit die le Roux- moederlyn loop steeds soos ‘n goue lint deur die familie omdat die oudste dogters vir geslagte heen, alternatiewelik of Elizabeth of Esther gedoop is. In die vertellings oor die Geldenhuys en Rowan families, is dit telkens duidelik dat naamgewing ook vooropgestel word in hierdie families. Sy ontdek dat die Rowans afstam van Krotoa en Pieternella van die Kaap.
Die dorp Kroonstad en sy mense, asook die Valsrivier staan sentraal in die verhaal van haar grootword jare. Haar pa, Attie Geldenhuys en ma Esther bied haar ‘n liefdevolle, huislike omgewing. Sy vertel van besoeke aan die Randse Paasskou, spesiale mense in haar lewe en gebeure op die plaas. Sy besef eers later hoe bevoorregd sy groot geword het.
Sy vertel van haar studiejare, haar man Albert en hulle vier kinders, Esther, Chr Toe hulle die huis verlaat, het sy ruimte om te begin wonder oor haar eie lewensreis. “Wat nou?” wonder sy. “Wat gaan ek nou met my lewe doen?” Sy studeer verder in Sielkunde, raak vrywillig betrokke by berading en besoek ‘n jong man wat vir moord op sy ouers skuldig bevind is. Sy sluit aan by ‘n Spirituality group waar vroue uit alle oorde uiteenlopende geestelike boeke sonder vooroordeel bespreek. Sodoende verbreed sy haar wêreldbeskouing. Sy word ook deel van verskeie droomgroepe wat drome vanuit die standpunt van Carl Jung ontleed. In 2012 word sy ‘n SoulCollage® fasiliteerder. Sy bied naweekonttrekkings aan by The Buddhist Retreat Centre naby Ixopo asook werkswinkels in Somerset-Wes.
Sy leer ysskaats en ski en reis die wêreld plat. Sy en Albert kamp dwarsdeur Suider-Afrika onder die uitspansel van ontelbare sterre.
Met ‘n terugblik op haar lewe, word sy bewus van die goue lint wat haar lewe deurweef. Gebeure wat ongevraag en onverwags ‘n rol gespeel het sodat sy in dankbaarheid kan terugkyk en sien hoe sy gevorm is en haarself vervorm het om te wees wie sy vandag is. En met opwinding steeds te let op die onvoorspelbare trajek van hierdie lint deur haar lewe.
‘n Goue Lint: Die memoires van Elize Rowan
- ‘n Goue Lint: Die memoires van Elize Rowan