top of page

Flora se Geheime Taal – Stories van Suider-Afrikaanse Plante 
Hierdie boek ondersoek die reise wat Suider-Afrikaanse plante meegemaak het, en die leser word uitgenooi om saam op die ontdekkingsveldtog te vertrek.

 

Die eerste is ʼn skeepsreis vanaf die Kaap na Europa waar ons plante ʼn beroering veroorsaak het. Daarna vanaf die Kaap die binneland in op soek na die simboliese betekenisse agter die botaniese name, sowel as die volksname van inheemse plante. Die plantjagters aan die Kaap, die besonderse rol wat vroue in Suid-Afrikaanse plantkunde gespeel het en die geskiedenis van ons veldblomskoue word beskryf.

 

Op dié reis word daar gesoek na die betekenis van Suider-Afrikaanse plante vir begrafnisgangers, voornemende vryers sowel as mense wat ekstra geluk benodig en in bygelowe glo. Die fokus is veral op die rol wat plant-tradisies speel in die oordra van inheemse kennis en hoe mites, oorgangsgebruike en volksgelowe ʼn belangrike bydrae kan lewer. Die voorkoms van plantsimboliek in visuele kuns, Afrikaanse letterkunde en -musiek word beskryf aan die hand van enkele kunstenaars se liefde vir die landelike en die aardse. Die proses van simboliek skep word beskryf en Strandveldse “plante met persoonlikheid” word ingespan om te verduidelik hoe menslike eienskappe aan plante toegedig word.

 

Janet Snyman, ʼn botaniese kunstenaar, het met haar omsigtige interpretasie die simboliek verhelder en deur haar besonderse aanvoeling vir detail het sy in haar illustrasies aan delikate plante “lewe gegee”.


Ernst van Jaarsveld: “Die boek beskryf meer as net die botaniese kennis van plante deur die volksnaamkundige inligting en die emosionele waardes wat plante vir mense het, byeen te bring.”
 

Flora se Geheime Taal: Stories van Suider-Afrikaanse Plante deur Madine Swart

SKU: 9780620723909
R290,00Price
  • Madine Swart het groot geword in die Bredasdorpse Strandveld en is trots op haar Overbergse wortels. Sy is ʼn lid van die Agulhas Erfenisvereniging en lewer graag bydraes tot die vereniging se Joernaal. 


    Madine woon tans in die Strand, waar sy as voorligtingsielkundige praktiseer. Haar areas van belangstelling is gekompliseerde rouprosesse en aanpassing tydens oorgangstye. Sy stel veral belang in die plante wat in rituele vir die dood gebruik word, en die emosionele waardes wat hierdie plante vir mense het. Daar is ʼn ryk inheemse kennis wat daarop dui dat die bande met geliefdes nie noodwendig deur die dood verbreek hoef te word nie. Dit is hierdie tradisies wat sy graag wil opteken sodat dit vir mense vertroosting kan bied tydens tydperke van vermisting. 


    As sy nie werk nie, doen sy graag joga en hou van stap in die veld. Die Strandveld en die Karoo is die plekke waar sy graag afskakel. In die Karoo leer ken sy met elke besoek nuwe plante en probeer die name leer danksy iNaturalist. Dit is die magiese gebruike van ons inheemse plante wat haar belangstelling kweek, en sy hoop om ʼn opvolg te skryf vir Flora se Geheime Taal wat in 2016 gepubliseer is. 

     

Special Offers

The Clowder Bookstore

T: 087 470 1324

E: info@theclowderbookstore.com

Helderberg, South Africa

Mon-Fri 09:00 - 16:30

  • Facebook
  • Instagram
bottom of page