Die Rooitamatie Storie - van Huiskos tot prentjiekos, is 'n storieboek met resepte. Dit volg die lewe van 'n passievolle en moedige dogtertjie wat 'n kookboek begin lees en besluit om 'n eend gaar te maak. Die dogtertjie word groot, ontmoet die liefde van haar lewe, wat ook hou van eet en kook en voluit leef.
Die Rooitamatie Storie - van Huiskos tot prentjiekos deur Renette Vosloo
Renette Vosloo kook al vandat sy 10 jaar oud is. Skryf kom net so lank al saam met haar, want in Standerd twee, onthou sy, het sy al vir haar meneer 'n storieboekie oor twee verliefde olifantjies aanmekaargekram.
Renette het Tukkies toe gegaan ná matriek in die vroeë tagtigs en 'n BA-met Staatswetenskappe agter haar naam gaan skryf. Kos was egter 'n goue draad dwarsdeur haar lewe, as student, as jong moeder en tot hier waar sy nou as weduwee die pad alleen aandurf.
Alles wat 'n kranige kok van kos en fynkos moet weet, het sy oor die jare seker gemaak sy kom te wete en kry onder die knie.
Woorde en kos is prentjies wat vir Renette help om sin te maak van lief en leed en waarmee sy graag ook raad en daad deel.